Welkom by Adam se Uitspanning se blog

Welkom by Adam se Uitspanning se blog

Het jy dieselfde murg in jou pype as jou voorgeslagte?

Adam se Uitspanning bied aan gaste die geleentheid om ‘n deel van die Afrikaner se kultuur-historiese erfenis aan die lyf te ervaar! Slaap in ‘n gerestoureerde antieke ossewa in die Karooveld vlakby die Afrikanerdorp Orania en oordink wat die woorde “oor ons ver verlate vlaktes, met die kreun van ossewa” nou éíntlik sou beteken…

 

Die Bo-Karoo lê vol ossewaspore van jagters, veeboere, trekkers en transportryers. Dit is ‘n dorre wêreld met snikhete somers, ysige winters, woeste westewinde, stof, vlieë en muggies. Maar dit is ook ‘n wêreld wat maklik jou hart kan inkruip met sy stiltes, goue onsondergange, vergesigte met skurwe randjies en tafelkoppies, ysterklip en karoobossies.

 

Adam se Uitspanning is ‘n plek waar die natuurliefhebber met ‘n Boerehart kan kom ontspan en die natuur beleef. Die waens dateer uit die 1920’s en is meesterlik herstel tot hul eertydse glorie deur die vakmanskap van prof Erik Holm en sy span. Al die waens se geskiedenis en wabouers se styl is deeglik nagevors en gedokumenteer. Elke wa het ‘n eiesoortige karakter, sodat elke staning ‘n unieke ervaring sal bied.

Back to Top