Stanings

Adam se Uitspanning is ‘n plek waar die natuurliefhebber met ‘n Boerehart kan kom ontspan en die natuur beleef. Die waens dateer uit die 1920’s en is meesterlik herstel tot hul eertydse glorie deur die vakmanskap van prof Erik Holm en sy span. Al die waens se geskiedenis en wabouers se styl is deeglik nagevors en gedokumenteer. Elke wa het ‘n eiesoortige karakter, sodat elke staning ‘n unieke ervaring sal bied. Daar is die volgende waens:

  • Dopper Joris se Wittebroodswa (privaat, met sy eie badkamer)
  • Adelaide se Nagmaalwa en
  • Jacobus Nicolaas se Disselblomwa deel ‘n badkamer
  • Attiesewa en
  • KrisJan se Uitkykwa deel ‘n badkamer
  • Willem Sternbergwa (luukse ‘koninklike’ wa met sy eie badkamer)
  • Albertus Petrus se Nimrod jagterswa (vir die avontuurlustiges, wat nie van baie geriewe hou nie…)
  • Die Bittereinder en
  • Verkykerskop se Bokwa deel ‘n badkamer

Die waens se binneruimtes is luuks ingerig met dubbelbedmatrasse en wit linne. Voor die wa is ‘n kuierarea ingerig waar gaste rustig kan teug aan ‘n kommetjie moerkoffie en boerbeskuit of soetkoekies. Wanneer die son in die weste verdwyn, sal gaste waarskynlik rondom die swemdam vergader om hulle te verwonder aan die skouspel terwyl hulle die stof en sweet van die dag afspoel. Die kinders kan, soos dit tradisioneel gedoen is, onder die wa slaap of in ‘n trekkertentjie wat in die nabyheid opgeslaan is.

Nêrens is die sterre so naby aan ‘n mens as in die skoon Karoohemel nie! Sit langs ‘n knetterende kampvuur en “aanskou die tint- en glansgewemel” en besef hoe klein die mensekind eintlik maar is.

Die Uitspanning is geleë binne ‘n ekopark en ook die groter Orania Bewarea, waar daar jaloers na die omgewing omgesien word. Verskeie kleiner wild- en voëlspesies, reptiele en insekte kom hier voor. Daar is ook verskeie rotsgravures wat gemaak is deur die omgewing se vroegste bewoners, maar ook Europese verbygangers, tot so onlangs as die Engelse Oorlog. Die plantegroei is tipies aan die Bo-Karoo en sorg word gedra dat dit kenmerkend aan die omgewing moet bly.

Dit bring ook mee dat ekologiese praktyke op die hoewe nagevolg word en daar hoofsaaklik van sonkrag gebruik gemaak word. Water kom uit ‘n boorgat en word, soos dit in ‘n semi-woestyngebied hoort, spaarsamig en verantwoordelik gebruik en hergebruik.

Back to Top